Skip Navigation LinksWear-Art

Wear art 2014: Highway to the danger zone

 

Ons boodskap met die 2014 Wear art vertoning was dat die mensdom oppad is na 'n gevaarsone.  Ons leefstyl, vermorsing en ondeurdagte ontwikkeling het ons op 'n pad van vernietiging gesit en ons sal 'n plan moet maak of ander blyplek soek.   

Dit was ons grootste 'Wear art' nog met 425 deelnemers, wonderlike dansitems wat die vertoning tot 'n kreatiewe eenheid gebind  het en Drama leerders wat seker gemaak het dat die gehoor die boodskap kry.  Ons voederskole Blanco Laerskool en Outeniqua Laerskool het ook pragtige skeppings vir  die vertoning gemaak en Tyholora Laerskool in Thembalethu het vanjaar vir die eerste keer deelgeneem. 

Die vertoning het uit drie gedeeltes bestaan.  Die Barok geïnspireerde maskers van die graad 8 leerders het die oorvloed,vermorsing en begeertes na luukshede verteenwoordig.  Die graad 9 leerders het ongelooflike origami krae van papier gemaak wat verteenwoordigend is van die pragtige strukture en geboue wat die mens skep ongeag die impak wat dit op die omgewing het.  Die laaste gedeelte van die vertoning het die wêreld van Wetenskapsfiksie met robotte en vreemde kreature gewys.  Die doel hiervan was om mense bewus te maak daarvan dat ons oppad is na die vernietiging en uitwissing van ons natuurlike hulpbronne en dat gifstowwe en kernafval kan lei tot mutasies en 'n skokkende einde vir die mens.

Die 2014 Wear art was 'n skouspel van Kwagga talent, op regte Kwagga skaal en as professionele vertoning aangebied  in 'n volgepakte Outeniqua skoolsaal.