Skip Navigation LinksImpak-Portefeulje

​​!mpak Portefeulje




Manna vir ons boere

 

Hoërskool Outeniqua IMPAK Portefeulje oorhandig R170 000 aan Caring Daisies se Manna vir die boere projek.

Mens het 'n oop hand nodig om te kan gee, maar ook om te kan ontvang. Dit het ons terdee  met hierdie projek wat ons aangepak het besef. Ons het die projek aangepak met die idee om te "gee" vir die boere, min wetend dat hierdie toer so groot IMPAK op ons eie lewens sou maak. Dit was ongelooflik om te sien hoe baie elke persoon gegroei het as individue en ook in hul vriendskappe en verhoudinge met mekaar.

Die IMPAK Portefeulje van Hoërskool Outeniqua het 'n fietstoer aangepak vanaf 25 Junie tot 30 Junie met die doel om vir die boere te wys dat hul nie alleen is in die droogtetydperk nie, om dankie te sê vir hul hande-arbeid om te sorg dat ons elke dag kos op ons tafels het en dan om geld in te samel vir die boere wat steeds deur die droogte geraak word. Die projek is aangepak ten bate van Caring Daisies se Manna vir die boere projek.

Ons het getrap vanaf George, Stilbaai, Malgas, L'Aghulhas, Caledon, Worcester. Vir 525km en 5 dae het ons die ongelooflik natuur van die Here, wat die boere elke dag beleef, saam met hul beleef.

Die spanwerk en hoe die leerders mekaar ondersteun het, was net in 'n ander klas. "Ohana means family and family means no one gets left behind." Hierdie groep ongelooflike kinders het nuwe betekenis aan 'familie' en 'niemand bly agter nie' gegee. Wanneer hul mekaar teen daardie verskriklike bulte uitgestoot het, het die volwassenes so elke nou en dan skelm 'n traantjie gepik, want so iets het hul nog nie by 'n skoolgroep beleef nie. Die spreekwoord "As dit nie aan jou vat nie, gee jy nie genoeg nie", het hierdie groep leerders elke dag uitgeleef. Die deursettingsvermoë, entoesiasme en positiwiteit wat die leerders getoon het sal nooit in geld waarde gemeet kan word nie.

Die Here het die projek so geseën met elke kilometer wat getrap is. Daar was geen ernstige beserings of pap wiele gewees nie. 

Ons galafunksie is die 8ste Augustus gehou, waar ons die geld aan Caring Daisies oorhandig het.  Dit was 'n reuse voorreg dat Anria van Heerden van die Caring Daisies die dag saam met ons kon deurbring. Ons kon namens die IMPAK Portefeulje van Hoërskool Outeniqua 'n bedrag van R170 000 aan die Caring Daisies oorhandig.

Ons leuse "Wees die verskil wat jy wil sien" was deur die hele projek ons inspirasie. Maar ons wil ook 'n groot dankie sê aan elke individu wat 'n verskil in ons as IMPAK se lewens gemaak het. Baie dankie vir elke persoon wat ons ondersteun het, vir ons gebid het en met 'n finansiële bydrae ons gehelp het om 'n verskil in die boeregemeenskap te maak.

Baie dankie vir ons groot borge, sonder hulle ondersteuning was die projek onmoontlik. Botlierskop Stud, Die Wildswinkel, Piet du Toit Wilbedryf, Jatro Vleismerinos, Oudsthoorn Grassnyers, Garden Route Mall, Earp Construction, Moov Fuel en SFM.




CANSA week:

Namens die IMPAK portefeulje wil ons net graag vir elke Kwagga wat 'n bydrae gelewer het tot die CANSA week opreg dankie sê.

Van kaalvoetdag, VCSV-aand, worsbroodjieverkope en die geldblikkie projek het die Kwaggas weereens gewys hul kan saamstaan vir 'n goeie saak. Baie geluk ook aan die Graad 9C klas wat 'n bedrag van R800 ingesamel het en sodoende die blikkieprojek gewen het.  

KWAGGAS, julle het met julle samewerking vir die projek werklik 'n IMPAK gemaak in kankerpasiënte se lewens.   

Dit was vir ons 'n voorreg om 'n bedrag van R20 000 aan CANSA te oorhandig.​