Skip Navigation LinksUit-die-Hoof-se-kantoor

Uit die Hoof se kantoor


27 Mei 2014

Die nuwe webtuiste is vanaf 27 Mei op die internet beskikbaar en ek hoop dat dit kommunikasie met ouers, leerders, oud-leerders en die gemeenskap sal verbeter. Baie dankie aan Neels Blom vir baie ure se werk, asook Rita Biljon, Francois Redelinghuys en Emil Rautenbach se aandeel om die nuwe webtuiste aktief te kry.

Kommunikasie is vir enige organisasie baie belangrik. Daar is vyf maniere van kommunikasie met die ouers:

Nuusbriewe

Daar gaan gemiddeld vier nuusbriewe per kwartaal na die ouers. Leerders ontvang die nuusbriewe op Vrydae en ouers moet asseblief seker maak hulle ontvang dit. Die nuusbrief is ook beskikbaar op die kommunikeerder en die skool se webwerf.

Kwagga Kalender

Die doel van die Kwagga Kalender is om uitslae en mooi prestasies en die volgende week se program aan ouers te stuur. Die Kwagga Kalender word elke Vrydag (behalwe tydens die eksamen) aan die ouers gestuur.

Webwerf  (www.outeniqua.co.za)

Die webwerf is oorgedoen en is nou baie meer gebruikersvriendelik. Bogenoemde inligting van die Kwagga Kalender en die nuusbriewe en nog vele meer verskyn op die webwerf.

Kommunikeerder

Elke ouer kan op sy/haar selfoon of rekenaar die Kommunikeerder aflaai. Gaan gerus na ons webwerf om die toepassing af te laai. Alle inligting wat in die nuusbriewe en in die Kwagga Kalender verskyn, verskyn ook op die Kommunikeerder.

Massa SMS'e

In sommige gevalle maak die skool gebruik van "bulk" SMS'e.  Dit word veral gebruik vir promosies, soos byvoorbeeld OMK se Elvis Blue-vertoning of iets wat dringend onder die ouers se aandag gebring moet word.

 

Die belangrike is dat ons graag ons ouers ingelig wil hou en daarom moet u asseblief van die bostaande middele gebruik maak om die inligting te bekom.

 

Akademie

Mei en Junie is ook die tyd waarin leerders en studente rekenskap van die eerste ses maande se werk moet gee. Gewoonlik is die eksamen vir die matrieks 'n baie moeilike een. Meeste onderwysers, wat vir die matrieks skoolhou, poog om ongeveer 80% van die sillabus teen die halfjaar-eksamen af te handel. Die nuwe sillabus, wat in die algemene taal as CAPS bekend staan, neem egter meer tyd en ek weet dat dit nie vanjaar die geval gaan wees nie.

Baie sterkte met die eksamen en onthou dat sukses slegs deur harde werk behaal word. Lees asseblief die omsendbrief van 23 Mei en maak seker van die reëlings en tye van die eksamen.

Die eksamenrooster is reeds op die webtuiste geplaas.

Sport

Baie geluk met die groot hoeveelheid leerders wat in hokkie, netbal en hokkie provinsiale klere verwerf het. Spelers en afrigters werk die hele jaar baie hard.  Mag die prestasies wat behaal word leerders aanspoor om nog harder te werk. Sterkte met die nasionale weke wat in die vakansie gaan plaasvind.

Baie sterkte met die komende naweek se wintersportwedstryde teen Paarl Gimnasium. Die laaste wintersport wedstryde vir die kwartaal vind volgende Saterdag teen Langenhoven Gimnasium op ons velde plaas.

Kultuur

Baie geluk aan die vokale ensemble wat tydens die Tygerberg Eisteddfod opgetree het en 89% vir hulle optrede ontvang het. Die skool het die voorreg gehad om hulle te sien optree tydens 'n saalopening. Hulle sang is van hoogstaande gehalte en ons is baie trots op hulle.

Ons is ook baie dankbaar dat die skoolkoor die jaar reeds een optrede agter die rug het en dat dit met hulle ook baie goed gaan. Baie dankie aan die onderwysers en leerders wat ure se werk insit om koorsang te verbeter.

Gimnasium

Daar is begroot vir die uitbreiding van die gimnasium. Nadat die planne opgetrek is, is die bouwerk op tender geplaas. Drie kwotasies is ontvang.  Die beheerliggaam het 'n kwotasie aanvaar en die bouwerk sal op 30 Junie begin.

Die bou van die kunssentrum wat gebaseer is op 'n rand-vir-rand ooreenkoms met die WKOD, is op die begroting van die WKOD vir die boekjaar 2015/2016 geplaas.

Algemeen

Nadat die algemene verkiesing verby is, het die meeste politici stil geword en kan elkeen van ons hoop dat hulle by hulle beloftes gaan hou en dat dienslewering en werkskepping regoor Suid-Afrika baie aandag gaan geniet. Die belangrikste manier hoe ons Suid-Afrika 'n beter plek vir almal gaan maak, is deur harde werk. Daarom het skole so 'n kardinale rol om leerders te leer om hard te werk en om volgens 'n stel vasgestelde waardes op te tree. Lees gerus weer op die webtuiste die Hoërskool Outeniqua se visie en missie en vergewis u van die waardestelsel van die skool.

 

C. P. Vorster

Skoolhoof