Hoërskool Outeniqua High | Welkom by die Kwaggas!

Geelhoutboom

E-mail Print PDF

GEELHOUTBOOM-UITREIK GEDURENDE DIE JUNIE-VAKANSIE 2010

‘n Paar Kwaggas het gedurende die tweede week van die vakansie (die sneeu en die koue het die planne vir die eerste week gekortwiek) en die laaste week van die vakansie verskeie aktiwiteite saam met die leerders van Geelhoutboom aangepak.  Dit was alles te danke aan mnr. André Buitendag, wat die program gereël het om die lang vakansie vir die kinders van Geelhoutboom ‘n bietjie meer opwindend te maak.

Die program het elke dag begin met stiltetyd vir die Kwaggas en ‘n bespreking van die brief aan die Efesiërs.  Die fokus was op eenheid en aanvaarding in die groep.

Hierna was dit Bybelstorietyd vir die leerders van Geelhoutboom en daar is selfs ‘n opvoering gehou.

Die leerders is in ‘n groen span en blou span ingedeel, elke met sy eie kreet, en hulle het daagliks in verskillende aktiwiteite vriendskaplik gekompeteer, soos bv. sokker, boeresport, “rounders”, ens.  Dit is opvallend hoe die leerders se kennis van sokker ontwikkel het as gevolg van die blootstelling op TV en die Kwaggas wat hulle ‘n bietjie touwys gemaak het.

Kunsaktiwiteite wat aangebied is, was die maak van kershouers uit gebruikte bottels wat met klei bedek en met skulpe versier is.  Kreatiwiteit is verder aangemoedig toe poppe uit bottels gemaak is met papier, wol, krale en beskikbare hulpbronne uit die omgewing.

Die besoek van soveel verskillende lande het as inspirasie gedien vir ‘n vlagparade wat die kinders geoefen het.  Dit is een middag met die lied ”Ancient of Days” met vlae vir ‘n groep vroue by een van die nabygeleë plase opgevoer.

Volgens “oom André”, soos die Kwaggas hom ken, was die hoofdoel van die uitreik interaksie, om verhoudings te bou en rolmodelle te wees.  Dit is ‘n uitvloeisel van Jesus se opdrag om dissipels van die nasies te gaan maak.

Dankie aan me C. van der Merwe van OHS en me Ohlson van Geelhoutboom wat op twee afsonderlike dae die uitreik kon bywoon.