Tydens ‘n spesiale saalbyeenkoms op 15 Februarie 2019 is Hoërskool Outeniqua se eretoekenning aan oudleerders aan Prof. Mathilda Burden (gebore Gericke) gemaak.
Die toekenning is gemaak uit erkenning vir die leidende rol wat Professor Burden op die gebied van Kultuurgeskiedenis in ons land en internasionaal speel. Sy is tans senior navorser in Kultuurgeskiedenis by die Stellenbosch Universiteitsmuseum en buitengewone professor in Kultuurgeskiedenis aan die Departement Geskiedenis: Noordwes Universiteit, Potchefstroom. Sy deel haar kundigheid deur as studieleier en promotor vir verskeie MA- en doktorale studente aan die US en NWU op te tree.
Verskeie publikasies, waaronder vakartikels en boeke, het uit haar pen gevloei. Sy het reeds 60 referate by nasionale en internasionale vakkongresse gelewer. Sy is betrokke by groot kultuurhistoriese uitstallings, die aanbied van kort kursusse oor kultuurhistoriese onderwerpe en sy hanteer die ontwerp en inrigting van verskeie nuwe museums.
Haar kundigheid is van groot waarde in die komitees of rade van talle verenigings en organisasies, wat verband hou met kultuur en erfenis, waarop sy dien. Tans is sy onder meer raadslid van die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (onder-voorsitter), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis (voorsitter), en in 2016 verkies tot vise-president van die International Folksong Society.
Professor Burden se 3 broers (Stephan, Buks en Bremer Gericke), 2 susters (Karin Temmingh en Elisabeth Potgieter), haar seun (Marinus) en peetkind (Greta Potgieter) het die toekenningsgeleentheid as gaste bygewoon. Al die Gericke kinders is oud-Kwaggas en die Gericke-familie het ‘n lang en lojale verbintenis met Hoërskool Outeniqua.
Tydens haar repliek het Professor Burden hulde gebring aan haar ouers en gesin. Sy het verwys na haar gelukkige skooldae, die indruk wat haar Geskiedenisonderwysers op haar loopbaankeuse gehad het en die belangrikheid van kultuurgeskiedenis in die verstaan van en respek vir kultuurverskeidenheid in ons land. Sy is staande toegejuig deur ‘n stampvol saal huidige Kwaggas.
Haar besoek is afgesluit met ‘n boomplantseremonie, waarna sy die skoolterrein verken het. Professor en haar eggenoot, Hugo Burden, woon in Stellenbosch.
Die Gericke gesin wat almal oud-Kwaggas is.
Van links: Buks Gericke, Elisabeth Potgieter, Karen Temmingh, Stephan Gericke,
Prof. Matilda Burden en Bremer Gericke.