Hoërskool Outeniqua is baie trots op sy vyf SA Skole Rugbyspelers wat aangekondig is na afloop van die onlangse Cravenweek in Kaapstad! Hierdie prestasie is uitsonderlik en kan toegeskryf word aan klipharde en toegewyde oefeninge sedert 2021. Danksy uitstekende fasilieite en afrigters by Outeniqua, word seuns die geleentheid gebied om hul maksimum potensiaal te bereik. Al vyf van hulle beleef ook ‘n uitstekende seisoen vir die eerste rugbyspan van Kwaggas. Onder leiding van hul afrigters, Abré Minnie, Henry Grimes, Heinrich du Plessis, Jandre Blom en Ian Hattingh is die eerste span tans ook onder die Top 10 rugbyskole in SA gelys.
Voorwaar iets om op trots te wees. Dit is vir ons as skool ‘n voorreg om deel te kan wees van nie net hierdie vyf seuns nie, maar ook van die hele eerste rugbyspan groep wat hulle alles gee vir die “Swart Trui”. Die eerste span speel eerskomende naweek teen Stellenberg in Kaapstad en ons wens hulle voorspoed toe vir hierdie groot wedstryd! Al vyf hierdie seuns speel Saterdag vir Outeniqua, met Antonio Bruinders as die kaptein van die span.
Die interskole teen Stellenberg is altyd ‘n hoogtepunt op ons skool se wintersportprogram, Vrydag 22 Julie vertrek meer as 600 van ons leerders na Kaapstad om rugby, hokkie, netbal, tennis, muurbal en skaak te gaan speel. Ons leerders sien baie uit na hierdie toer!!!!!!!
Op die foto verskyn die volgende:
Voor van links: Piet Cloete (Sporthoof); Dewald Gerber (SA Skole A); Antonio Bruinders (SA Skole A); JT Strydom (SA Skole A); Christo Vorster (Skoolhoof)
Ry 2 van links: Abré Minnie (Hoofafrigter van Outeniqua); Ruan Swart (SA Skole); Camden Schoeman (SA Skole A); Heinrich du Plessis (Kondisionering)
Agter: Henry Grimes (Hulp-afrigter van Outeniqua)
Comments are closed.