Wapen en Leuse
Die sentrale motief op die wapen, nl. die by en die heuningkoek, het sy oorsprong in die Khoi-woord, Outeniqua, wat letterlik beteken: man belaai met heuning.
Gesonde, heilsame opvoeding vind slegs plaas in ‘n omgewing waar daar orde en dissipline is – treffend uitgebeeld deur die simmetriese seskantige selle van die heuningkoek.
Bogenoemde motief word gepas saamgevat in die leuse: Nobilitat Labor, wat leerders oproep tot hardwerkendheid omdat arbeid die mens veredel.
Arbeidsaamheid en die vermoë om in ‘n groep te werk word deur die vlytige by voorgestel.
Voorts is die skool geleë “aan die voet van trotse berge” – ‘n frase uit die skoollied. Die bergspitse op die wapen simboliseer dan ook die hoogtes waarna leerders moet strewe.