Page

Die aktiwiteitsspyskaart in Kwaggaland is oneindig groot en streef daarna om selfs die vreemdste sportsmake te bevredig.  Een van die bekendste disse op die Kwagga spyskaart en wat selfs die fynproewer na sy asem laat snak, is rugby.  Kwaggaland spog met ‘n roemryke en kleurvolle rugbygeskiedenis.

Kwaggas is ongetwyfeld een van die beste rugbyskole in die land.  Ons eerstespan tel reeds sedert 2000 onder die TOP 20 skole in die land.  Ons word ook elke jaar na al die prestige rugbytoernooie in die land uitgenooi.  Elke jaar bestaan die kern van al die SWD-verteenwoordigende spanne in alle ouderdomsgroepe uit spelers van Kwaggaland.  Ons bied ook jaarliks tydens die Aprilvakansie ‘n uiters geslaagde O/14 en O/15-rugbytoernooi aan waar al die top skole in die land ons skool besoek.

Dit is ons skool se beleid om onsself teen die beste skole in die land te meet.  In hierdie wedstryde gee ons spanne deeglik rekenskap van hulle talente en hardwerkendheid.  Gedrag op en van die veld af geniet ‘n baie hoë prioriteit.

Verder is ons skool ook geseën met entoesiastiese, passievolle afrigters en puik fasiliteite.  Ons beskik oor ‘n puik toegeruste gimnasium en biokinetiese sentrum met 3 biokinetici wat werk van onskatbare waarde verrig.

Ons kan tans 14 rugbyspanne in die veld stoot.  0/19 A tot E en 014 tot 0/16 A tot C. Kwagga rugby is trots op prestasie en erken uitnemendheid.  Wen ten alle koste word egter nie geduld nie.  Die rugbyveld is vir elke onderwyser van ons skool ‘n baie besondere opvoedingsterrein.  Puik sportmangees, netjiese en korrekte kleredrag is deel van die goeie dissipline wat van elke sportman vereis word.

“Ability will get you to the top, character will keep you there” – John Wooden

Algemeen

Die skool as opvoedkundige instelling behoort die plek te wees waar sportetiek en moraliteit ontwikkel word as deel van die groter opvoedingsdoel: om die kind voor te berei vir die volwasse lewe. Rugby bied aan die afrigter en die deelnemer veelvuldige opvoedkundige waardes soos:

  • Respek vir jou eie liggaam en die opponent se liggaam
  • Respek vir die reëls van die spel
  • Respek vir die skeidsregter se beslissings
  • Wen met trots, maar verloor met waardigheid sonder verskonings
  • Hou jou liggaam, houding, gedagtes rein as voorbeeld vir ander
  • Strewe na liggaamlike fiksheid en vermy selfsugtigheid en egoïsme
  • Deel jou sukses met ander
  • Dank die Skepper vir jou talente
  • Om jou medemens by te staan of op te hef.Die belangrikste saak is nie om te wen nie, maar om deel te neem met eerlike spel en dit met oorgawe te geniet.

Rugby Hoof

Hoof van Rugby:
Mnr Jaco Jansen van Rensburg
hy kan gekontak word by rugby2@outeniqua.co.za vir navrae.

Afrigters: Sien die OHS Rugbystruktuur
SPAN            VELD DAG TYD
O/14 C Ma, Di, Do. 15:00 – 16:30
O/15 C Ma, Di, Do. 16:00 – 17:30
O/16 B Ma, Di, Do. 16:00 – 17:30
O/19C EN D B Ma, Di, Do. 16:00 – 17:30
O/19A EN B A Ma, Di, Do. 15:30 – 17:30

Somer: Maandae, Dinsdae en Donderdae vanaf 17:00 tot 18:00.

Rugby kleredrag

 

2019 Span Foto’s

2019 Span Foto’s

Rugby Nuus

Cravenweek Rugby spanne 2021

Jujade Coeries en Caston Michaels is deel van die SA Skole sewes span.

Jujade Coeries en Caston Michaels is deel van die SA Skole sewes span wat in die Capricorn Internasionale toernooi in Windhoek gewen het. Kwagga rugby is trots op hulle!

Ons ‘back’ julle, boys

Hoërskool Outeniqua se eerste rugby- en hokkiespanne is vanjaar gerugsteun deur wonderlike onderlinge kameraderie en ondersteuning.