KWAGGAS GEE OM!
By Hoërskool Outeniqua het ons ‘n uitgebreide netwerk om leerders en personeel te ondersteun.
Fisiese versorging
Behoeftige leerders ontvang pousekospakkies. Ons dank aan die Vryburgers en Jheerluk Deli wat ons hierin ondersteun.
Kruideniers- en toiletware is weekliks beskikbaar vir leerder wie se huislike omstandighede dit nodig maak.
Behoeftige leerders kan ook met skryfbehoeftes en skoolklere gehelp word. Matrieks word met die matriekafskeid ondersteun sodat elke matriekleerder die geleentheid het om hierdie spesiale aand by te woon.
Emosionele versorging
Die Kwagga Opvoedkundige Sentrum (KOS) bied die diens van opgeleide en bekwame personeel wat leerders deur emosionele gebeurtenisse kan bystaan. Die KOS bestaan uit twee sielkundiges, me. Anne-marie Naudé en mnr. Kobie de Klerk, asook me. Brenda de Swardt (berader) en me. Iryna Diedericks (sekretaresse).
Leerders, ouers en personeel kan by die sekretaresse ‘n afspraak maak. Me. Naudé (opvoedkundige sielkundige) begelei ook leerders in hul vakkeuse en beroepsopsies.
Geestelike versorging
Kwaggas is bevoorreg om daagliks vyf voltydse jeugwerkers op ons perseel te hê. Hulle is beskikbaar vir leerders wat geestelike en emosionele ondersteuning en insette verlang.
Ons geestelike aksie se naam is KRUISLIG. Ons hou jaarliks in die eerste en die derde kwartaal Jeugweke waar Kwaggas saam lofprysing en aanbidding doen, waarna sprekers hulle oor geestelike en lewenskwessie toespreek. In kwartaal twee en vier is daar aanbiddingsaande waar Kwaggas saam sing en bid.
Kruisligkringe is ‘n belangrike deel van die geestelike versorging. Woensdagmiddae sluit die skool 30 minute vroeër en kry leerders geleentheid om in kleingroepe (kringe) bymekaar te kom. Tans het ons 118 kringleiers wat Maandagaande bymekaarkom om onderrig in die Woord te ontvang sodat hulle hul kringe op ‘n Woensdag kan begelei. Ongeveer 800 leerders skakel by die kringe in en ons is dankbaar vir die geleentheid om as tieners saam oor die Bybel te kan gesels.
Ons besef die belangrikheid van gebed en alle Kwaggas word genooi om soggens voor skool vanaf 7:00 tot 7:30 saam op die netbalbane te bid. Vrydagoggende kom ‘n groep gebedsouers by die KOS-kantoor bymekaar om vir die skool, leerders en personeel te bid. Alle ouers is welkom. Tydens elke Jeugweek hou die ouers ‘n Gebedstap waar hulle rondom die skoolterrein stap en leerders, personeel, die skoolleiers en die skoolaktiwiteite in gebed aan die Here opdra.
In die praktyk
By Versorging is KWAGGAS GEE OM nie net ‘n leuse nie. Kwaggas word ook geleer om dit toe te pas.
Bloedskenk: Leerders 16 jaar en ouer kry kwartaalliks die geleentheid om by die skool bloed te skenk. Met elke skenking kan drie lewens gered word. Kwaggas is in 2023 en 2024 aangewys as die skool in die Wes-Kaap wat die meeste eenhede bloed geskenk het.
Insameling van kos: Die VRL loods twee maal per jaar ‘n insameling van kos vir die Noodspens waaruit behoeftige leerders gehelp word.
Baie dankie aan vir elke bydrae, Kwaggas. Elke blikkie of pakkie kos tel om iewers ‘n honger te stil.
Die Behoeftigheidsfonds is die hoofbegustigde van die Mnr & Mej Kwagga-kompetisie wat jaarliks gehou word. Dié kompetisie is nie net ‘n skoonheidskompetisie nie, dit gaan eintlik meer oor liefdadigheid en teruggee aan die skool en die gemeenskap. Elke finalis moet R3 000 kontant insamel en is betrokke by die skool se Noodspens en verskeie uitreike. Dit is vir ons baie lekker om te sien hoe die finaliste ook tydens die proses groei. Julle maak ‘n groot verskil in baie kinders se lewens.